Wednesday, 4 May 2011

Eendag!!!!!

Eendag as die kinders groot is, gaan dinge in ons huis darem baie anders wees.  Die motorhuis sal nie meer vol fietse, Rolskaatse, elektriese treinspore, springtoue, vierwiel motorfietse, hondehokke en ou skool take staan nie.

Eendag as die kinders groot is, sal ek weer tyd hê om rustig aan te trek; ´n heerlike lang warm bad te neem sonder drie of meer paniekbevange onderbrekings.  Ek sal tyd hê om my naels, en selfs my toonnaels, te verf sonder om ´n dosyn vrae te moet beantwoord.  Ek sal my hare kan laat versorg sonder dat dit gepaard gaan met die toetsing van die volgende dag se spelling-huiswerk, of die beantwoord van noodroepe soos om die worshond veearts toe te neem, of die een kind na di dokter, ´n ander na die sokkerveld, ´n derde na ekstra klasse en ´n vierde netbal toe.

Eendag as die kinders groot is, sal die kombuis weer kraakskoon en netjies wees:  die wasbak sonder fettirige borde; die vuilgoeddrom sal nie permanent oorloop nie; die koelkas sal nie oorlaai wees met nege soorte koeldrank nie.  Die deksel van die soutpotjie, die tamatiesous bottel, die grondboontjiebotter sal nie meer wegraak nie.  Die waterbottel sal nie leeg teruggesit word en die ysbakkies vergete by die wasbak staan nie.

Eendag as die kinders groot is, sal die instrument wat ´n "selfoon" genoem word, nie meer so aanhoudend lui  nie.  Jy sal weet dat jy verkeerd was toe jy gedink het die selfoon is ´n ding wat uit ´n tiener se oor groei.

Eendag as die kinders eers groot is, sal ons weer deur al die vensters van die motor kan sien: Taai vingermerke, tonglekke, hondespoortjies sal in hulle afwesigheid skitter.  Pa sal nie meer hoef te herhaal nie: "Julle, hou asseblief die kar skoon, anders loop julle met julle voete.  Moenie die deure so toeslaan nie!"

Eendag as die kinders eers groot is, sal verstaanbare Afrikaans weer in ons huis gehoor word.  Elke sin sal nie  gepaard gaan met "Cool" of "Great" of "Awesome!" nie.  Ek en manlief sal in vrede dinge kan bespreek sonder die onderbreking van kinders wat mekaar deur die huis jaag met die honde agterna.  Ons sal n ie meer hoef te wag totdat die huis stil is omdat al sie kinders eindelik slaap om ´n volwasse gesprek te voer oor die gebeure van die dag nie.  Mal musiekmaak geluide sal nie meer deur die huis dawer sodat hoor en sien vergaan nie.  Daar sal n ie meer gestry word oor wie die reg het om watter TV-program te kyk en pa hoef nie  meer skeidsregter te speel nie.

Eendag as die kinders groot is, sal my sleutels nie meer wegraak nie; ons sal nie aanhoudend hoef te soek na alles nie; pa sal nie meer onskuldige vrae hoef te beantwoord soos: "Pa, is dit ´n sonde om 100 te ry in ´n gebied wat 90 gemerk is?"  Ek sal nie vir die nalatige lammetjie hoef te belowe dat ek die worshond nag sal soen nie.  Ons sal nie tot middernag wakker lê en tob totdat die kinders van hul partytjie huistoe kom nie.

Ja, eendag as die kinders groot is, gaan dinge baie anders wees.  Een vir een sal hulle die nes verlaat en vrede en orde sal oor ons huis neerdaal.  Die enigste geluid sal die gekraak van die plankvloer wees as ons die gang afstap.  Die selfoon sal vreemd stil wees....die huis sal stom wees....die kinders se kamers soos grafkelders.....die huis sal vol herrinneringe wees....en ons sal glad nie daarvan hou nie en vir onsself baie jammer voel.

Dan sal ons nie meer uitsien na "eendag" nie, maar met ´n pyn van verlange terugdink aan "gister"!  Ons sal die kinders mis en hulle bel net om weer ´n slag hul stemme te hoor.  Ons sal dink: miskien kom die kinders kuier, sodat ons die kleinkinders kan bederf en daar ´n bietjie lawaai in die huis kan wees.  Maar Paulus het gesê dat ´n mens tevrede moet wees met jou omstandighede.
Dan weer:  Paulus was nie getroud nie en het nie kinders gehad nie!

1 comment:

  1. Ja, maar Paulus het darem soms gesê dis nou hy wat praat, en nie die Here nie... Ek dink die groot vreugde lê om vandag te ontdek, vandag te geniet, vandag voluit te leef.

    lekker om jou op blogger te ontmoet. Sal graag jou blog volg en kyk hoe leef julle in die land van my voorouers...

    ReplyDelete